Monday, 22 December 2014

Openbaring #20: Die groot parentese gaping (Die Kerk-era)


Die boek Openbaring mbt die verborgenheid van die koninkryk van die hemele.

Die groot parentese gaping:


Die periode tussen die nege-en-sestigste en sewentigste profeties week van Daniel noem ons die profetiese parentese of die verborgenheid van die koninkryk van die hemele.

Dat daar 'n verborgenheid in die Ou Testament was, is nie te betwyfel nie. 'n noukeurige ondersoek van die Ou Testament sal dit aan die lig bring (Jes. 9:5-6). Dit verwys na Christus se geboorte, en dan lees ons op die troon van Dawid. Hier sien ons die vredesryk onmiddellik na die geboorte (Jes 11:1- 9).

Ons het hier geen melding van die huidige Kerk-era wat die Groot Verdrukking en duisendjaar-vredesryk voorafgaan nie. Hierdie verborgenheid vir die Ou Testamentiese profete is aan die Nuwe Testamentiese apostels geopenbaar (Matt. 13:11, 17). 

Die verborgenheid, hoewel vermeld deur Jesus, was nog nie volkome aan die apostels voor Jesus se kruisiging geopenbaar nie. Romeine 16:25-26 spreek van die verborgenheid wat eeue lank in die Ou Testamentiese tye verswyg is, maar nou in die Nuwe Testamentiese tyd geopenbaar is.

Later is die verborgenheid volkome aan Paulus, die apostel onder die heidene, deur 'n openbaring gegee (Gal. 1:11- 12; Ef. 1:9-10; 3:1-12). Die Kerk-era dek 'n tydperk vanaf die kruisiging van Christus (Heb. 9:15-17), tot en met die wegraping (1 Kor. 15:23; 51-54; 1Thess. 4:13-17).

Direk na die wegraping sal die 70ste week of Groot Verdrukking 'n aanvang neem.   

Die Ou Testamentiese profesie het 'n onverduidelikte tussenpose ingesluit (Jes. 9:6-7; 11:1-9; 61:1-3; Luk. 4:18-20). Hierdie profetiese gaping, ander ook gestel: die groot parentese gaping, word deur Jesus Christus die verborgenhede van die koninkryk van die hemele genoem (Matt. 13:11.35), wat as 'n geheim bewaar was sedert die wereld begin het, maar nou geopenbaar is as die Kerk volgens die apostels Paulus en Petrus (Ef. 2:11-18; 3:4-10; 1 Pet. 1:10-12).

Die term, "verborgenhede van die koninkryk van die hemele", is die Christendom. Binne die Christendom, wat uit gelowiges en ongelowiges bestaan, vind ons die ware Kerk, die gelowiges wat waarlik wedergebore is.

Tussen die 69ste en 70ste weke, gedurende die tyd van Israel se verwerping, pas die huidige Kerk-periode in (Op 2-3). Dit is waar ons ons dan ook vandag bevind in God se profetiese horlosie.

Eers wanneer die volheid van die heidene ingegaan het (Rom. 11:25), sal die wegraping plaasvind (Op 4:1).

Daarna sal die Here Hom tot Israel wend (Op 6-18), waarna die volk Israel aan die einde van die Groot Verdrukking as 'n nasie gered sal word (Rom. 11:26; Jes. 66:8; Op 19:11-14)

  Sien ook meer oor: Die koninkryk van die hemele in verborgenheid Lees hier

Regte (C) 2011 Raymond D Lombard (met toestemming hiermee gegee)


Friday, 19 December 2014

Sondes wat nooit vergewe word nie


Die onvergeeflike sonde (sondaars)

Die Here Jesus sê daar is een genadelose, skrikwekkende en verderflike sonde wat die mens (sondaards) nie vergewe sal word nie. Hierdie daad en sonde skei die mens van God tot in lengte van dae, tot die ewigdurende ewigheid. (Mat 12:31-32). Hierdie onvergeeflike sonde behels die opsetlike, moedswillige lastering teen jou eie beterwete in, waar crimen injuria (karakterskending) teen die Heilige Gees gepleeg word deur ’n volhardende, ongelowige hart. So ’n mens se sonde sal hom nooit in ewigheid vergewe word nie.

Die sonde van verwerping van Jesus (wedergebore Christene)

Dan is daar ook die sonde van die verwerping van Jesus lei nie maar net tot ʼn fisieke dood nie, maar tot die ewige straf of tweede dood, met ander woorde, die hel. Hierdie sonde word gepleeg deur mense wat Jesus Christus voorheen as Saligmaker bely het.  ( Heb 6:4-6; 10:26-31 ) Dit is dus wedergebore Christene wat Jesus verwerp en hulle aan bv die Judaïsme of die Islam of ander gelowe verkleef. Dié gelowiges wat die rug op Jesus keer, Hom verwerp, en die bloed van die testament onrein ag, sal nooit weer deur die Heilige Gees tot bekering gelei word nie.

Vir hulle geld die woord:
Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart, vergader jy vir jou toorn as ʼn skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God (Rom. 2:5).