Tuesday 30 December 2014

Openbaring #22: Die ontleding en verstaan van 'n antichris gees vs vandag se "antichriste"

Die boek Openbaring mbt verstaan van die komende Antichris

Om die ontleding te verstaan wat die Woord oor die komende Antichris openbaar, moet ons in alle gevalle die onderskeid kan maak tussen die betekenis en verstaan van 1) 'n antichris gees, 2) die baie antichriste vandag, en 3) Die komende Antichris.

Die antichris gees: 

Dit is eintlik eenvoudig. Enige gees teen die gees van Christus is 'n antichris gees. Die antichris gees (van die komende Antichris) is al aan die werk as ware van "dag een" af.

1Jn_4:3  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. 

Die baie antichriste vandag:

1Jn_2:18  Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is
Enige antichris kan niks anders wees as 'n persoon wat 'n antichris gees uitleef, verkondig en/of aanhang. Die mate en hoeveelheid van diesulkes is juis dan volgens Johannes die aanduiding dat die laaste uur aan aanbreek is. 

1Jn_2:22  Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. 

2Jn_1:7  Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris
.

Vandag verseker word baie (die Pous ens.) VERKEERDELIK uitgewys as die komende Antichris vandag geopenbaar.

Weet dit:   

2 Thess 2:7-8  (7) Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou (DIE BRUID/KERK), uit die weg geruim (WEGGERAAP) is; (8)  en dan sal die ongeregtige (die ANTICHRIS) geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Sien dan ook meer oor die komende Antichris Lees hier

Regte (C) 2011 Raymond D Lombard ( met toestemming hiermee opgesom)

Monday 22 December 2014

Openbaring #21: Die koninkryk van die hemele in verborgenheid


Die boek Openbaring mbt die verborgenheid van die koninkryk van die hemele.

Die koninkryk van die hemele in verborgenheid

Beide  die  Ou  Testament  en  Nuwe  Testament  spreek  van  die koninkryk van God. Die basiese betekenis van die koninkryk van God is "God se heerskappy." Dit is die sfeer van die soewereine heerskappy van God. God het die reg om te regeer, daar is die sfeer van God se regering en die realiteit van God se regering of heerskappy waar Hy met koninklike gesag en outoriteit heers.

In die Evangelies word die terminologie "koninkryk van die hemele" en "koninkryk van God" as wisselvorme gebruik (vergelyk Mattheus 4:17 en Markus 1:15; Mattheus 8:11 en Lukas 13:28;  Mattheus  13:11 en Markus 4:11). Omrede Mattheus sy Evangelie hoofsaaklik  aan die Jode gerig het, het hy die formule "koninkryk van God" nie  algemeen aangewend   nie.  Vandaar   Mattheus   se  gebruik   om  “God”  meestal  met “hemele” te vervang.

Die koninkryksleer is in die Bybel veelvlakkig bekendgestel. In totaal is daar vyf fasette. Vier van die vyf fasette is reeds bekend in die Ou Testament; die vyfde faset is die verborgenbeid wat nou eers in die NuweTestament geopenbaar is.

Kortliks dan die vier fasette bekend in die Ou Testatment:

Universele / ewige koninkryk: Dit is God se soewereine heerskappy oor sy ganse skepping. Als kom tot stand deur God se direkte of toegelate wil.

Geestelike koninkryk: Dit verwys na die heerskappy van God in die hart van ‘n gelowige. Dit is saamgestel uit gelowiges deur die ganse menslike geskiedenis. Die geestelike koninkryk sluit in alle gelowiges van die Ou Testament. Die Kerkbedeling, sowel as gelowiges na die wegname van die Kerk.

Die teokratiese koninkryk: Dit verwys na GOD se heerskappy oor Israel. Dit het sy begin by die berg Sinai met die wet van Moses wat dien as die konstitusie van die teokratiese koninkryk. Dit skrifte mbt die teokratiese koningkryk strek vanaf Exodus 19 en eindig met 2 Kronieke 26. Die skrifte bevat in die periode al die geskiedenis van die teokratiese koninkryk.

Die Messiaanse koninkryk: Die koningkryk of anders dan die duisendjaar-vredesryk is die letterlike, aardse koninkryk wat op aarde gevestig sal word. Die Messias sal oor Israel en die heiden nasies regeer, vanaf die troon van Dawid in Jerusalem. Johannes die Doper het die koninkryk verkondig (Mat 3:1-2), Jesus Christus het die koninkryk vir Israel aangebied maar die Joodse leiers het dit in Mattheus 12 verwerp. Die aanbieding is dus teruggeneem van daardie geslag. Menslik gesien, is dit uitgestel, vanuit ‘n Goddelike perpektief, is dit deel van die Goddelike plan. Hierdie koninkryk sal weer aangebied word gedruende die dae van die Groot Verdrukking, wat die Jode dan gaan aanvaar. Die Messiaanse koninkryk sal dan opgerig word.

Dan die vyfde faset:  Die koninkryk van die hemele in verborgenheid

Hierdie vyfde faset van die koninkryk is die enigste van die vyf fasette wat nie in die Ou Testament geopenbaar is nie; dit is eers as verborgenheid in die Nuwe Testament geopenbaar.

Die bekendmaking van die koninkryk van die hemele in verborgenheid het gekom as gevolg van die ]ode se verwerping van die Messiasskap van Christus. Daarom het Jesus 'n voortsetting van die aanbieding van die Messiaanse koninkryk gestaak. Die volk is in bepaalde plekke getoets, plekke soos Kapernauim, Betsaida, en so meer (Matt.11:20-24), waar die verworpe Koning die Een word wat verwerp.

Die verborgenhede van die koninkryk van die hemele ontvou in die gelykenisse van Mattheus 13. Hierdie koninkryke het begin by die verwerping van Jesus Christus as die Messias (Mattheus 12-13) en dit eindig met die aanvaardiging van die Messiasskap van Jesus deur Israel (Mattheus 24-25, Sagria 12). Die koninkryk in verborgenheid sluit die tydvak in vanaf Mattheus 13 tot Johannes 20; dit sluit ook die hele Kerk-era in (Johannes 20 tot Openbaring 3), sowel as die Groot Verdrukking (Openbaring 6 tot Openbaring 19). Die koninkryk in verborgenheid beslaan dus die totale tydperk vanaf Mattheuis 13 tot en met die einde van die Groot Verdrukking.

'n Gelowige in die Kerk-era is dus in die geestelike koninkryk van God sowel as in die koninkryk in verborgenheid.

Die woord "Christendom" beskrywe en definieer die koninkryk van die hemele in verborgenheid. Die term "Christendom" verwys na oral in die wereld waar die geloof in Jesus bevestig word, reg of verkeerd, hetsy ortodoks, in dwaalleer, evangelies of Protestants.

Die koninkryk in verborgenheid in sy huidige vorm of gestalte vind uitdrukking as die Christendom. Hierdie term is die beskrywendste van die aard en wese van die koninkryk soos dit nou daar uitsien.  Daarom vind  ons  in  die  gelykenisse  van  Mattheus  13: gereddes  en  ongereddes, gelowiges en ongelowiges, die goeie saad en die onkruid naas mekaar, as saambestaande,  juis omdat  die koninkryk  in verborge  vorm  is. Hierdie huidige   bedeling   van   die   Christendom   of   verborgenheid van   die koninkryk van die hemele is dan tekenend van hoe die koninkryk tans daar uitsien. Om in die sfeer van die Christendom te wees beteken nog glad nie om gered te wees of saligheid deelagtig te geword het nie. Die ware gelowige is die een wat deur wedergeboorte   in die geestelike koninkryk ingegaan het en saligheid deelagtig geword het. Die ganse sfeer van die Christelikheid, of beter beskrywend, die Christendom, is dan die koninkryk in verborgenheid. Die koninkryk sal so voortduur tot en met die wederkoms van Jesus Christus

Die koninkryk in verborgenheid moet dus onderskei word van die ander vier fasette van die koninkryk omdat:

•      die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die universele of ewige koninkryk nie. Die koninkryk in verborgenheid is beperk in tyd, die universele koninkryk nie;

•      die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die geestelike koninkryk nie, omrede die koninkryk in verborgenheid gelowiges sowel as ongelowiges bevat, wat nie die geval met die geestelike koninkryk is nie;


•        die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die teokratiese koninkryk nie, want dit sluit nie God se heerskappy oor Israel in nie;

•        die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die Messiaanse koninkryk nie, omdat Jesus nie oor die koninkryk regeer vanuit Jerusalem nie; en

•        die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde as die Kerk is nie. Die Kerk is wel binne-in die koninkryk in verborgenheid, omdat daar gelowiges daarin is; die Kerk is die koring, en sluit die skat en die perel in (sien die gelykenisse in Mattheus 13), maar dit is nie die totaliteit daarvan nie.

Die Kerk is dus 'n deel of aspek van die koninkryk in verborgenheid, sowel as 'n aspek van die geestelike koninkryk, maar dit is nie die totaliteit van die koninkryk in verborgenheid nie.

Die probleem waarop die profete van ouds geen lig kon werp nie, is wat sou gebeur in die tydvak tussen die verwerping van die Koning en sy wederkoms. Die verborgenhede (geheimenisse) van die koninkryk van die hemele (Matt. 13) bied die antwoord. Jesus Christus sou later in Mattheus 16 nog 'n voorheen verborge doelstelling van God bekend maak: Ek sal my gemeente {Engels: Church) bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Regte (C) 2011 Raymond D Lombard (met toestemming hiermee gegee)

                 

Openbaring #20: Die groot parentese gaping (Die Kerk-era)


Die boek Openbaring mbt die verborgenheid van die koninkryk van die hemele.

Die groot parentese gaping:


Die periode tussen die nege-en-sestigste en sewentigste profeties week van Daniel noem ons die profetiese parentese of die verborgenheid van die koninkryk van die hemele.

Dat daar 'n verborgenheid in die Ou Testament was, is nie te betwyfel nie. 'n noukeurige ondersoek van die Ou Testament sal dit aan die lig bring (Jes. 9:5-6). Dit verwys na Christus se geboorte, en dan lees ons op die troon van Dawid. Hier sien ons die vredesryk onmiddellik na die geboorte (Jes 11:1- 9).

Ons het hier geen melding van die huidige Kerk-era wat die Groot Verdrukking en duisendjaar-vredesryk voorafgaan nie. Hierdie verborgenheid vir die Ou Testamentiese profete is aan die Nuwe Testamentiese apostels geopenbaar (Matt. 13:11, 17). 

Die verborgenheid, hoewel vermeld deur Jesus, was nog nie volkome aan die apostels voor Jesus se kruisiging geopenbaar nie. Romeine 16:25-26 spreek van die verborgenheid wat eeue lank in die Ou Testamentiese tye verswyg is, maar nou in die Nuwe Testamentiese tyd geopenbaar is.

Later is die verborgenheid volkome aan Paulus, die apostel onder die heidene, deur 'n openbaring gegee (Gal. 1:11- 12; Ef. 1:9-10; 3:1-12). Die Kerk-era dek 'n tydperk vanaf die kruisiging van Christus (Heb. 9:15-17), tot en met die wegraping (1 Kor. 15:23; 51-54; 1Thess. 4:13-17).

Direk na die wegraping sal die 70ste week of Groot Verdrukking 'n aanvang neem.   

Die Ou Testamentiese profesie het 'n onverduidelikte tussenpose ingesluit (Jes. 9:6-7; 11:1-9; 61:1-3; Luk. 4:18-20). Hierdie profetiese gaping, ander ook gestel: die groot parentese gaping, word deur Jesus Christus die verborgenhede van die koninkryk van die hemele genoem (Matt. 13:11.35), wat as 'n geheim bewaar was sedert die wereld begin het, maar nou geopenbaar is as die Kerk volgens die apostels Paulus en Petrus (Ef. 2:11-18; 3:4-10; 1 Pet. 1:10-12).

Die term, "verborgenhede van die koninkryk van die hemele", is die Christendom. Binne die Christendom, wat uit gelowiges en ongelowiges bestaan, vind ons die ware Kerk, die gelowiges wat waarlik wedergebore is.

Tussen die 69ste en 70ste weke, gedurende die tyd van Israel se verwerping, pas die huidige Kerk-periode in (Op 2-3). Dit is waar ons ons dan ook vandag bevind in God se profetiese horlosie.

Eers wanneer die volheid van die heidene ingegaan het (Rom. 11:25), sal die wegraping plaasvind (Op 4:1).

Daarna sal die Here Hom tot Israel wend (Op 6-18), waarna die volk Israel aan die einde van die Groot Verdrukking as 'n nasie gered sal word (Rom. 11:26; Jes. 66:8; Op 19:11-14)

  Sien ook meer oor: Die koninkryk van die hemele in verborgenheid Lees hier

Regte (C) 2011 Raymond D Lombard (met toestemming hiermee gegee)


Friday 19 December 2014

Sondes wat nooit vergewe word nie


Die onvergeeflike sonde (sondaars)

Die Here Jesus sê daar is een genadelose, skrikwekkende en verderflike sonde wat die mens (sondaards) nie vergewe sal word nie. Hierdie daad en sonde skei die mens van God tot in lengte van dae, tot die ewigdurende ewigheid. (Mat 12:31-32). Hierdie onvergeeflike sonde behels die opsetlike, moedswillige lastering teen jou eie beterwete in, waar crimen injuria (karakterskending) teen die Heilige Gees gepleeg word deur ’n volhardende, ongelowige hart. So ’n mens se sonde sal hom nooit in ewigheid vergewe word nie.

Die sonde van verwerping van Jesus (wedergebore Christene)

Dan is daar ook die sonde van die verwerping van Jesus lei nie maar net tot ʼn fisieke dood nie, maar tot die ewige straf of tweede dood, met ander woorde, die hel. Hierdie sonde word gepleeg deur mense wat Jesus Christus voorheen as Saligmaker bely het.  ( Heb 6:4-6; 10:26-31 ) Dit is dus wedergebore Christene wat Jesus verwerp en hulle aan bv die Judaïsme of die Islam of ander gelowe verkleef. Dié gelowiges wat die rug op Jesus keer, Hom verwerp, en die bloed van die testament onrein ag, sal nooit weer deur die Heilige Gees tot bekering gelei word nie.

Vir hulle geld die woord:
Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart, vergader jy vir jou toorn as ʼn skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God (Rom. 2:5).